RUGBY – WAAR LÊ DIE VERSKIL TUSSEN ONS SPANNE?
Die Sharks het dit. Die Bulls het dit gehad. Die Springbokke is besig om dit weer te implementeer en die Stormers verstaan dit klaarblyklik nie. Ek praat natuurlik van 'n gestruktureerde mentorskapprogram waar ervare seniorspelers doelgerig en planmatig jonger onervare spelers onder die vlerk neem en hulle slyp vir die toekoms.
Daar is talle wat die besluit om Bakkies Botha in die Springbok-toergroep na Europa in te sluit, bevraagteken. Dit is egter Heyneke Meyer se sterkpunt, nie net die afrigting van spelers nie, maar die mentorskap wat daarby aansluit. Pieter-Steph du Toit, onder andere, gaan enorme baat vind met Bakkies, en ook van die ander ou manne, se teenwoordigheid.
Heyneke Meyer, destyds die afrigter van die Blou Bulle (2000-2007), word as 'n gevallestudie gebruik in Mentoring and Coaching (Meyer, M en L Fourie, 2004). Hulle dui juis aan hoe uitstekend Heyneke dit regkry om nie net 'n span af te rig nie, maar om mentorskap in die hele struktuur te implementeer.r se sterkpunt, nie net die afrigting van spelers n Om sukses op die veld te behaal, moet spelers suksesvol in hulle lewe wees. Dit behels 'n gebalanseerde lewenstyl. Onder Heyneke wen die Blou Bulle vier keer die Curriebekers (2002-2006) en word die Bulls in 2007 die eerste SA span om die Super 14 te wen.
Marco Botha (Beeld 28 Oktober 2013) probeer om aan te dui dat die huidige afrigtingspan van die Bulle, in vergelyking met Heyneke, baie sterk linkerbrein-dominant is. Dit gaan dus vir die huidige afrigtingspan meer oor wat op die veld alleen gebeur as noodwendig om die volledige prentjie ook van die veld af, te sien. Hulle kort dus iemand om by die afrigtingspan te betrek wat mentorskap werklik verstaan en kan implementeer. Spelers moet holisties bestuur en begelei word. Mentorskap kyk juis na alle fasette van 'n persoon se lewe. 'n Goeie mentor maak seker dat die mentee se lewe in balans is, wat betref; verhoudings, intellektuele stimulasie, spiritualiteit en ontspanning en nie net wat die spel, rugby, betref nie.
Dit bring my by die Sharks. Dit is nie nodig om op die suksesse te wys wat John Smit en Jake White met die Springbokspan, veral tot en met 2007, behaal het nie. Weereens gaan dit nie bloot om 'n afrigting- of spanstrategie nie, maar die holistiese verstaan van die spelers ten opsigte van die span en die sport. Nie verniet is John Smit se bynaam Barney nie. Terwyl daar baie redes vir die bynaam is, is die insiggewende dat die naam “Barney” trooster of ondersteuner beteken.
Hierdie invloed hoor jy by Jacques Botha wanneer hy verduidelik dat rugby nie net op die veld gespeel word nie, maar ook in die kop. Hierdie “in die kop” is meer as net sielkundige voorbereiding, dit het te make met die iets “nice” wat Brenden Venter ook na die span gebring het (http://www.sharksrugby.co.za/news ). Stephan Nel (Beeld 2 Oktober 2013) het hieroor geskryf toe hy die rol van Venter by die Sharks verduidelik het. John Smit wou die Engelse Premierliga-klub, Saracens, se kultuur by die Sharks vestig. John se eie rol by Saracens was onder ander die van mentor vir ander spelers.
Daarom dat John vir Brenden Venter (aanvanklik direkteur en nou tegniese direkteur van Saracens) by die Sharks betrek het. Nel skryf hoe daar onder Brendan se leiding die spelers by Saracens tot 'n eenheid saamgesnoer is. Wat opmerklik van die (mentorskap) benadering is, is dat elke speler 'n lewe buite die spel moet hê. Elke speler moet betrokke wees by hetsy werk of studies. Rugby mag nie hulle lewens oorheers nie. Hulle moet balans handhaaf, raad wat enige goeie mentor aan sy mentee sal gee.
Hierdie gesindheid word ook deur een van Saracens se nuwe borge onderstreep. Hulle voer as rede vir hulle betrokkenheid by die span aan, juis Saracens se benadering tot die spelers, op die veld en van die veld af. Die borg wil bepaald ook by die spelers van die veld af betrokke wees. (http://www.saracens.com/ sanlam-private-investments-join-saracens/ ) In een van Saracens se advertensies vir nuwe jong afrigters, is mentorskap een van die voorwaardes vir nuwe aansoekers. (http://www.saracens.com/ exciting-coaching-roles-in-saracens-academy/ )
Jy het dus by die Sharks 'n gedugte span, wat nie net tegnies uiters vaardig is nie, maar wat ook mentorskap verstaan. In hierdie professionele era gaan dit die “competitive edge” wees wat spanne van mekaar gaan onderskei. Dit het juis geblyk in die afgelope Curriebeker finaal. Hoekom het WP nie op die dag uitgestyg nie? My antwoord: Mentorskap.
Indien dit waar is dat WP takties deur die Sharks geklop is, is dit 'n erge belediging vir Allister Coetzee en sy span mede-afrigters. Hulle was reg deur die seisoen die beste span. Die feit dat Allister nie kan insien dat die spelers nie ten volle voorbereid was nie, en hier praat ek weer van mentorskap, toon juis sy en sy afrigtingspan se onbegrip vir die nuwe moderne era. Coetzee kan nie insien dat sy span nie psigies voorbereid was nie (http://www.sarugbymag.co.za/blog/details/wp-coach-blind-to-home-truth). Watter rol, indien enige, speel mentorskap by die Stormers/WP? My raad sou wees om dringend 'n oud-speler in te kry wat hierdie rol kan vervul. Miskien is die antwoord in Jean de Villiers te vind, maar hoe lank kan die Stormers/WP dit nog bekostig?
Terug na die Sharks. Indien hulle nog 'n tree vooruit wil gee, moet hulle die spelers se spiritualiteit ontgin en die dissipline van meditasie ontdek en begin beoefen. Daar is geen sterker mag as die ongeputte innerlike krag nie. Hou hulle dop!